Saturday, November 28, 2009

In my droom sit ek weer agter op die motorfiets in Indie,
kamera wankelrig in die hand,
die pad kronkel soos ‘n nat tong onder ons deurgeslyte bande,
en die gloeiende Oog van die kamera brand ‘n gat deur
die immergroen bome, en die wit oggendlig wat flikker-en-spat
aan weerskante, en ons hare wapper verlore – windverstrooide
woorde- en ons wit dansende hande gryp na vlietende skadu’s
in die glibberige pad.

En die ewige wind wat in my ore druis, die wind soos ‘n simfonie…
Daardie dag was ‘n kanvas, ons die gloeiende kwasstreep in vaart

Sunday, November 15, 2009

Pa, ek rook weer vanaand 'n sigaret op jou. Die wind gryp die rook
in 'n dronk dans en warrel saam met 'n kaleidoskoop verlepte
herfsblare, en in die kaal stram arms van die reuse akkerboom
sien ek jou weer dans op Neil Diamond, jou voete wat lomp vastrap,
die vibrasie van jou vals stem, en die vuur se tong, die vlam se mal
gebare. En op die rug van die wind die woorde "I am I said, to
no one there. And no one heard at all"...

Wednesday, November 11, 2009

vir my groen-oog broer

my groen-oog broer, ek dink vannag aan hoe jou denkerkop
ook tilt, kyk na ou foto's en sien my erns ook plek-plek spore
loop om jou mond. my springbok groot kakebeen gespierde kuit
broer. ons kinder gesprekke vlek my brein vannag soos verspulde
wyn...

Monday, October 19, 2009

Onthou julle die Zepher met sy reuse sitplekke sonder safety belts.

Die Zepher sonder Remme.

En kasterolie bottels wat soos juwele in die geel son geglinster het,

die geroeste graaf wat spit en delf aan sy eie rou wond in die droe grond-

Rysmierbult, en ons heeldag in die bakkende son.

En die ou plaashuis wat so swaar gesug het tussen sy eie skaniere,

die vier winde het geloei soos geeste, die vensters in ‘n duisend stukkende

skerwe soos sproeiers teen die wit lig. Onthou julle…

die berge by Venterskroon wat soos‘n ge-eelte hand uitgestrek was,

Ons in die modder en die sinkbad en die bome en in die riviere en tussen

die grafte en in die huise en op die highway met die lamppale wat verby flits-

flits-

flits-

Onthou julle.

Sunday, September 27, 2009

Die tol

Soveel gedigte oor die gebroke hart spin soos 'n rooi tol om
sy eie as. 'n Tol wat volspoed swik en wik en weeg, maar
steeds mank agter sy eie gebroke as aan draf...

So, ook ek jaag die maan vanaand been-af met my slim digtershond,
en kom poot-uit op jou wortel af- 'n rooi gapende wond wat glinster

in die donker,
sonder as of mond.

Sunday, September 20, 2009

Epiloog

Rachmanioff beur soos 'n trop verskrikte bokke teen
die badkamermuur uit die klein draadlose radio'tjie sidder
bewend op die bad se rant. En skielik vanuit die sitkamer,
asof uit die niet, bulder Beethoven sy derde simfonie
soos 'n oorlogslied. En ek en jy sit weer vir die eerste keer
penorent in die Royal Festival Hall op ons £6 seats.
Die kondukteur se akrobatiese arms windmeul verwoed,
sy dun mond soos donder, sy oe skrefies swart roet. En
agter hom die afwagtende gehoor, ore tot breekpunt gespits-

Thursday, August 27, 2009

die Stilte

die mure het steeds ore wat luister, en skadu's sluip
voetloos oor wit hande.

ek spits my ore, gretige antenna’s, en hou my asem
afwagtend op. ek klem my wit hande, en hou die dooie
horlosie met groot oe dop...
en ek wag-

vir die bekende gesels van sleutels wat in 'n rooi voordeur
kners. die sagte sug van 'n boek bladsy onder geel lamplig.
vir die brom van Beethoven op 'n raserige klokradio. die intieme
nanag murmur van twee stemme in gesprek.

'n spinnende kat se ligvoet midnag spel op my kombers....

ek spits my ore, en ek luister na my hart wat breek in 'n vers.

Wednesday, July 29, 2009

die droom

In my droom beur antieke skepe ge-anker na 'n wilde see
soos rebelse let-ter-grepe oor die drumpel van 'n stotterende tong

Wednesday, July 08, 2009

die reen het gister met benerige vingers teen my kamerruit geval
en nat spore soos slak sleepsels het asof wikenwegend wiken
wegend lang trane teen die glas af laat

val

soos 'n sliert donker hare teen jou voorkop, of die teer
sukkelende spoor van 'n af-dop slak oor my hart

Sunday, June 07, 2009

Tottenham court road. ek en my gloeiende sigaret-oog/ek
en my voete wat kners op die sypad en breek
soos knelrooi granate/ek en die kaleidoskoop skare
kaats gelate in vertoonkaste/ ek en die borrelende
wyn wat gesellig klets in my are/ ek en die laat aand wind
se nat vingers in my hare/ek en die ontsnapte rommel
langs vuil asdromme en die woedende motors se geel
blitsende oe en Warren street station se rooi tonnel
mond wat driftig knip-oog voor/ Net ek,
en ...

Tuesday, April 28, 2009

Ma, ek dink vanaand aan hoe die Mooirivier ruik wanneer
'n somers reentjie uitgesak het, en aan spaghetti & maalvleis
op 'n lee maag. Aan basterhonde in die stowwerige yard,
en 'n rooi proesende Anglia wat straat op beur. Aan 'n huis
waar elke kamer sy eie kleur gedoop is, en selfs die kaggel
een week swart roggel en die volgende week pers spoeg.
Waar die toiletseat waggel en skree soos 'n ou, vet dame en
die deure gil in hulle skaniere, die lendelam meubels wankel
op onvaste bene, die badwater roggel en louwarm skater.
En aan jou bulderende lag Ma, in daardie lang donker gange

Saturday, April 04, 2009

vir pa (soos die ander)

jou verjaardag is, soos jou doodsdag, iets van die verlede
en tog staan albei datums stemmig in my geheue gekerf;
die een vrugloos jaar-na-jaar,
die ander dra loodswaar aan een, twee, drie, vier...jare

die ewige mank balans van 'n gebroke weegskaal...

die vonds

Vandag het ek oophand- lomp deur Cloete & Cilliers & Rousseau
gedelf -die vlymskerp klinkers kerf steeds rou teen my binne-oor,
en 'n duisend immergroen vrae roep nou soos een stem deur my
rooi-stom are.

Strofe-na-struikelende strofe lisp kaalhak oor my stotterende
tong, en elke dobberende woordlandskap deins groot-oog
en dors teen 'n kloppende brein.

Sodat ek wonder oor die komende jare, oor bottende herfsbome
en bros geel blare! En oor my eie skurwe hak knersend in skadu

Sunday, March 15, 2009

Dink aan my as die rooi tong van die karoo- son oor jou bree
skouers lek, en jou gebarste voete oor die sandkombers
van die woestynvloer kners

en wanneer jy jou reuse rugsak poot-uit op die grond laat val en
die tent se koel mure vaardig vaspen,

die son sy kop moeg laat sak op 'n kaal horison...

dink aan my;

as die maan bleek sy sterk ken uitsteek, en die sterre flikker
soos die spatsels weerlig op die speke van jou gegrendelde fiets
hier...

en die vuur se tong oranje stotter en vlam vat, en gesellig
sarsies geel-groen-en-pers vlamme soos woorde uit skiet-

en wanneer die nag uiteindelik stil nader draf- ‘n spinnende kat-
en op jou skoot kom le,

dink aan my…

Friday, February 20, 2009

my skat onthou jy die Aylesbury Estate sewe beton verdiepings
met toe-knyp vensters soos bang oe en die hysbak het geskree
na asem soos ons tot op die sesde vloer met jou lendelam boekrak
en die plek het gestink na oranje pis en die lui reuk van dagga
het saam met die kletsende Jamaicans gesweef tot op ons balkon
waar kerse soos katoe gebrand het en miles davis en ella fitzgerald
en bach en die inkspots het die mure laat beef alles geskud soos

een orga(ni)sme onthou jy my skat

Thursday, February 19, 2009

'n hangkop-klok in elke kamer waarsku tong in die kies.
jou gekneusde hande rus rond op die kombuistafel.
die rug se spleen, elke kompakte been haarstyf gespan-
nog 'n halfhuis-hart skoppend in 'n maatemmer

die vrees

miskien moet ek jou vergaan geduldig die regop leer klim
my kindsbeen vervang met die meganiese egte ding -

die ink op die sykant van my linkerhand sal droog word
'n roof sonder enige snykant en snags sal slegs die buitelig brand
die maan doods hang en die trein stad toe-en- terug sal proesend
voortspoed 'n ysterperd sonder gemoed miskien moet ek jou vergaan

dronk aandvers

die langsteel glas grawe 'n graf in ons klein tuin
lower gras omhul die steel pas, 'n knusse jas.
ons sit op gemakstoele sonder rug
en kyk na die witwordende lug. die wilgerboom
kug 'n gesang verlore terug

en die blare suis teen die aandwind- 'n skraal
dooie kind,'n nanag snak. So sit ons saam maar sonder
want ek besit vanaand alleen die lig, die donker

Angsaanval

Definisie van die Af-kop haan: "onder andere woonagtig in die slagoffer se keel (as 'n knop) die hand (se bewe) die perdehart
(wat SKOP-SKOP sonder stop) die handpalms (natgesweet) lig-sku oe (flik-ker-end in die oogkas)
die gebalde vuis (gepers tot klip) die swik-van-die-been die stamel-van-die-tong die alewige
stram
volstruis nek 'n droe tong oor gebarste lippe gelek..."

Die slagoffer-self: "besit 'n skarrel in haar stap vermy oog-
kontak (asook SKARES dag en nag)
en word stuk-stuk deur die Haan skoon gepik".

Wednesday, January 21, 2009




Wednesday, December 31, 2008

Vir jou sal ek nog baie skryf soos: as die maan
soos 'n traan in 'n Billie Holiday song hang-
en: jy het die oe van 'n gewonde dier.
En oor ons voete wat deesdae onewe val,
skryf ek ook hier.

Wednesday, December 24, 2008


Tuesday, December 16, 2008

Friday, December 12, 2008

vir jou, soos die ander

die dag strek bleek - poot uit soos 'n basterhond-
en die wind se hart pomp- pomp soos my voete traag op die grond

die boemelaar voor Coscutters se gesig is gebreek, sag teruggevou
soos 'n lendelam brief, stukkend gelees deur die son

en my voete klap steeds pomp-pomp kloppend traag op die grond...

later glinster die stad se vals wimpers teen my ruit, soen my sommer oopmond

maar ek dink net aan jou vandag, onder die grond

Sunday, November 09, 2008

die Nonsensvers

daardie einste gedig wat op my hart druk, 'n opgewonde brakkie
met vrot asem, het nie reels of ritme, of selfs knetterende konsonante/
ronde vokale soos spoelklippe nie. nee, hy spartel sonder rym of refrein
na 'n spreekbeurt in vlak water- die silwer mikrofoon teen droe lippe
gepers. huiwerend agter mooi woorde, die flink vers. sonder tong of
kners, daardie einste woorde dobber doelloos iewers in hierdie vers

winterskreet

die wind val in vlae en november se dae word in gelid kort geknip
warm lamplig teen my pofwang pantoffels vir die nat donker gang
maar die kloue van die reen krap geniepsig teen 'n ratelende dak,
en hoog bo ons marsjeer swart storm wolke dreunend in oorlog-sang

Sunday, October 26, 2008

die winter klouter benig af tot in die spelonk van my borskas,
waar agter my hart tamboer soos 'n duif, en sluit yskoue
kloue om my hart die duif. nou loop ek rond, 'n hartkamer gesluit-
en daar agter jou hartklop, vir ewig gestuit

Monday, September 22, 2008

Vir Isobel 27 Junie 1918 - 22 September 2008

isobel beethoven se vyfde simfonie bewe teen die dak vir jou
chopin het ek laat asemskep (vir nou) en die pers viooltjies (geel
spikkel in die middel soos 'n oog) suig langsteel geknak water
uit 'n glasbak. ek sit in die gloed van beethoven en ek onthou jou
klein, klein hande isobel. jou balletvoete. die trotse pronk van jou neus

die wind waai mistroostig vir jou, isobel. en die dag glim gebleik en grou.

weet tog, isobel, dat my pen bloei vir jou

Saturday, September 13, 2008

nonsens vers, oftewel dagdroom van die gesneuwelde student

kognitiewe sielkunde of praat ons nou van die gestalt/e
teorie op bladsy 763? descartes en sy dualistiese standpunt op...
of die brein met sy genommerde lobbe wat frontaal (serebraal?) na
asem proes. geen sprake vannag van hoe Die Brein se kiewe suutjies

hyg tussen koffie 1 en 4, of van die Vis se flinkse groei onder 'n
trillende wit bladsy nie.. selfs die loswriemel (hoek tussen vet lippe)
word vermy. nee geen sprake van die listelose kom-en-gaan swem
van die dier (en ek heel ingesluk) onder die nugter lamplig nie

Wednesday, September 03, 2008

vir isobel 27 Junie 1918-

isobel jou huis sal my hart wees totdat ek ook beswyk
die lampe hier gloei - geel huiwerende vinke teen
die muur -en jou klein hande hou my vas
in die nag drup drup die swart reen en val die dood
se skaduwee ligvoet in die skaniere van jou bleek gelaat
isobel jou hande hou my vas terwyl jy my verlaat

Tuesday, September 02, 2008

die wind hyg soos ‘n onrustige ondier sluip hy
vandag geslape om hoe bome en lae struike en glip oor die draad
en gaan le aan die ander kant van die spoor teemend soos ‘n ou
vrou die note glip uit sy skor keel en daar gaan le ‘n ou beklemming
op my bors gelek deur ‘n gewonde hond se nat tong troos
wanneer hy afbeen die groot wilgerboom se bas afstroop

Weerspieeling

die jare het geval dooie swaels met skerp snawels uit die lug
en ek het gewag. Vir rooiwyn aande in Kerslig,
en vir die maan ‘n geel kool drywend soos ‘n skip
maar ek dobber refleksieloos, ‘n rimpellyk in ons stil badwater
my wit gesig dien, dein en kom terug
in die vuil spieel en my groot swart oe bespied
die vlaktes agter my rug.

Tuesday, July 01, 2008

Mol mymering

Dignet delf so 'n bietjie vir gedigte ondergrond, en sal weer kop uitsteek oor 'n maand of twee...

Saturday, May 24, 2008

camden town foto


argument

die jare vou haar ge-eelte vuis om my en jou en wurg
die stil lug hortend blou selfs die wind slaak vandag 'n
sug gedwee en saggies soos die bewende hartsnaar reen
blare uit die lug, 'n see

Wednesday, April 23, 2008

Vir Gerda (alhoewel ek nog soveel wou se...)

my dae ontvou klam babavuiste sonder jou die lente
breek hier 'n geel vrugbare eier maar herfs val in
skerwe by jou. die maan se blink as tol vir ons;
sy lang wit gesig sweef bloedloos oor jou bos-vingers
en met laag gety aan die ander kant
glimps ek jou voetspoor gestol op stilbaai se strand

Saturday, April 05, 2008

Skrywersblok

Die maagdelike blaai le gewillig uitgestrek, wagtend op
die ink se swart vlek,
die horlosie tik ritmies, ‘n oopgesperde hart, en buite kreun
die reen gesellig in gesprek.

Die skerm adem ’n woord of twee, wreek dan ‘n sin verlee
of spuug ’n frase sonder keer, en
die wyser marsjeer tree vir tree saam met orente letters,

moedig teen die wit see.

Wanneer die reen eindelik poot-uit gaan le, en die horlosie klop

sonder hart, is dit 'n gretige slagtand wat woorde blind nader hark en
verslind, en slegs die flikkerende wyser drywend laat om die digter te tart-



* "wyser"="cursor"

Monday, February 18, 2008

die stram stoel op die stoep omvou jou steeds in groet
en snags val jou eggo-voet in verlate strate, en ek roep
jou fier stap op voor oog die boog van jou denker kop pa
my asem het egalig uitgestrek my oe het die donker
talmend begin lek eers toe die klok drie uur slaan
het ek jou skraal silhoeet onder die maan sien strek

Sunday, February 17, 2008

ek en evert


Friday, February 15, 2008

lot van die romantikus

Eers toe Tchaikovsky se reusagtige viool deur die huis se nou skaniere kreun in D Minor
En die venster-oe ratelend in hoekige rame beef soos knersende tande
En die dak lawaaierig loswriemel uit sy vier ritmiese arms en klap-klap-klappend die hemel infladder
dring iets pynlik soos ‘n naaldsteek in my rooi bors deur die valentynsdag lyk en gaan le tussen Austen, en Jonker se liefdesnes, saam met Plath en Hughes op ‘n enkelbed, soos die lot van die ewige romantikus

Friday, February 01, 2008

Nog n midnag gedagte

daardie herfslandskap van uitgehongerde gedane jare
steeds vasgenael in skraal silhoeet onder n skerp sekelson
Die skroei weer vannag genadeloos oor nuut verbrande skouerblaaie
sodat ek my ore wydsoog spits in n hotelkamer met lee laaie
en aandagtig luister na die oud-bekende komponis se bitter-bekende gebare

Tuesday, January 08, 2008

Goa gedagte

afoor steekhaar honde lek lostong aan Goa se wonde
die son dryf 'n rooi kool in die lug en
op die strand breek die bleek see sy vuis verwoed oor
'n rooi skarrelende massa gestol soos bloed

en ons, afrika dubbelsilhoeet vibrasies,
gespuug uit die indiese see; 'n halusinasie

Saturday, December 08, 2007

die uurglas kantel onverhoeds elke uur
tussen ons gespoor vir goed

Wednesday, December 05, 2007

Eerste liefde van Elizabeth Eybers (26 Feb 1915 - 01 Des 2007)

Ons liefde het gesterf met die oggendstond,
En ons het haar begrawe, bleek en stom;
teer lentegras en geurige voorjaarsgrond
bedek haar, sonder smuk van krans of blom.

Onthou jy haar?.... Sy was tingerig-fyn,
met vingers slank en lig, haar stem was sag,
en haar blou wonder-oë vreemd en rein.
Haar dood was vreedsaam, sonder rougeklag.

Ek mag nie om haar ween: haar stil vertrek
was beter as 'n kwynende bestaan-
maar, ag, ek wonder of jy ooit, soos ek,
'n oomblik by haar graf in mym'ring staan...

Eybers biografie

Saturday, November 17, 2007




Friday, November 09, 2007

Vlietende gedagte (nav Devil's Elbow vlaktes in Skotland)

die dag kom wanneer ek my gekneusde self tussen die wit vlaktes
uitgestrek soos god se hand sal lawe soos ons destyds jonk
en groen teen die gietende reen moes hawe

Friday, October 05, 2007

die hunkering

miskien moes ek destyds die eiland se sand aan my klam
voete laat talm het vir nog 'n half-maand 'n half-maan aand
ons asems gebreek op die nag gewreek het soos wat die nugter
dag deursypel totdat elke korrel van die hunkerende wens verdwyn.
die spons leeg getap, soos die plat see, sou ek dan rustig oor
jou koorsige voorkop kon vee
in plaas van die drup die drup van die alewige kraan in my hart
wat tap snags
tap

Friday, September 21, 2007

Freud se studeerkamer, in Londen


Wednesday, September 19, 2007

freud-se-huis observasies

in Freud se huis het ons, die gelowiges, die wentel
trap geklim en as toeriste ons oe gerus, oopgespalk
vir al om te sien, op die studeer
kamer skim-
was 'n reuse walvis stoeiend op die strand
en ook 'n sagte leerbank, steeds liggaamshitte
alkant, sku slapend onder oe.
die Hongerte het my die toeris (nat neus teen die glaskas)
gestrand, ewig wroegend met die id en die
ego op niemandsland

Friday, August 24, 2007

'n dag het gaan le soos die reen ook, sonder protes,
die blou TV flikker asemloos. die telefoon hang draadloos.
twaalf volle ure gesterf, gepers soos rooi druiwe, grinnik wydsbek
in die midnagkers.en die digter (woordmoordenaar) sit beskut
agter die skerm- flits en protesteer teen die stilte op die maan se rug

Thursday, August 16, 2007

die wete (Kokoschka painting)




die kille vuis van die dood klem en ont
klem die hart met vingers van lood wanneer
die sonderlinge herinnering van die gestorwene
teen die goue son opstoot die reuk van 'n ge-oesde reen
talmend in die keel vas steek 'n verlore voetstap mank val
en val (nou saam met die reen) en die voetganger, vergesel,
sy pas skielik versteen

Saturday, August 04, 2007

opmerking

die mense hier ingeleg is louter kaal poppe in 'n glaskas
die rooi mure 'n ritmiese hart wat klankdig en vas bewe
onder 'n gloeilamp
ons sit en ek tog alleen op 'n leerbank sonder kreun en
vannag buite my sigveld, die oorweldigende reen

Wednesday, July 11, 2007

Egon Schiele pic


Vlietende gedagte

die dae van die langbeen pampoendogter afhakskoene
'n knap streepbaadjie gaasdun kouse
-die dun stem en stil hande-
is verby en le opgestapel; 'n hoop kaalvoet lyke.
die houthuis, ook, wankel in onvaste spoor soos
die lang man mettertyd sy stem verloor.

Wednesday, June 20, 2007

NP van Wyk Louw:


NP van Wyk Louw is op 17 Junie 1970 oorlede. Hier volg twee van sy gedigte in herdenking: Nagreen

Die reën skuifel deur die straat,
verby my venster, mensverlaat …
Soos ’n trossie narsings wat verkwyn,
flikker die druppels teen my vensterruit
waar die geel straatlig daardeur skyn;
en voel die wind
met bleek vingers, soos ’n kind,
aan die swaar gordyn, wat plooi
in die lamplig, teer en droef papawerrooi.

Die wind in die baai het gaan lê

Die wind in die baai het gaan lê
Die wind in die baai het gaan lê en rondom
het dit oor Houtbaai, oor Kampsbaai
en by Seepunt wit koppe bly waai.
Maar, in die baai het die wind gaan lê:
alles wil toegesluit lyk - byna veilig -;
en 'n seun het in 'n blikskuitjie uit,
sakdoek vir seil
- sonder fletter -, plankies vir roeiers,
dit uit-gewaag
- want die wind oor die baai het gaan lê.
En ons bid na die berg, die wind, die planeet toe
om alles wat wind-berg-planeet se aard is
af te lê, en 'n oomblik ('n oomblik!)
net te broei, broei oor die vrees vir die vrees
en die ongewete roei van die seun
in hierdie kort stilte binne die baai.

Wednesday, May 30, 2007

nostalgiese mymerings (1st draft)

Die akkerbome in Tomstraat staan dig teen die winter
en in restaurante brand geel oe teen die donker.
Op die sypad sluimer ‘n verlore soen.
Malherbe straat en
die grate van gesprekke vlek die vloere
‘n bed vlugtige skadu teen die glas en daar
agter die reen.
Cummings en Shakespeare en Plath die woorde val

steeds deur die plafon en strik in die keel.
Die bar wieg kaal op twee dronk voete houttafels
coverbands vae bekende Munch gesigte en die
vrou wieg ook mee, ewig vasgepen in groete

Wednesday, May 23, 2007

egon schiele pic





Vlietende gedagte: sondag lunch in wetherspoons

klowe op die man se gesig langs ons
waterige oe sy bier geklem 'n vangs
geplooide hande die are stu blou op swaarde
geroesemoes van gebreekte stemme die sunday
times le bleek onder hande- swart en wit geblokte sak- glimlag
soos ek ook, sonder tande

Thursday, May 17, 2007

midnag observasie

die kubisagtige gesig gesny tot 'n honderd lyne
geplooi tot 'n skrale halfmaan mond aandagtige
oe gestrik in donker hoekies naakwit borste glim
styg en daal egalig in die skraal lig hoekige heup
bene beskut 'n dor baar moeder kindshande leweloos
in betragting die kop kantel peinsend warm asem fladder
wit teen die spieel 'n koue voet sny deur die badwater
'n sagte plas en die stille donker omhels sy bekende gas

Wednesday, March 28, 2007

Die volgende gedigte toegewei aan die reuse: NP van Wyk Louw (foto), Breyten Breytenbach, Elisabeth Eybers, en Ingrid Jonker


Grense; NP van Wyk Louw, uit 'Die groot verseboek, 1951'

http://af.wikipedia.org/wiki/N.P._van_Wyk_Louw

My naakte siel wil sonder skrome
in alle eenvoud tot jou gaan,
soos uit diepe slaap ons drome,
soos teen skemerlug die bome
opreik teen die bloue maan;

gaan met al sy donker wense,
en die heilige, nooit-gehoorde
dinge se, waarvoor die mense
huiwer, en wat om die grense
flikker van my duister woorde

Breyten Breytenbach

4.7 (1159- 1201) Breyten Breytenbach- uit die 'Ongedanste dans', geskryf vanaf 1975 - 1983 tydens sy politieke gevangeneskap

Ken jy my nou?
Het jy die spieel gesien
en ken ek jou?
NP v WL

om twaalfuur in die middag
wanneer dit donker is
staan die bourgeouis woongebied in ligte laaie
oopgepluk met verskroeide onderklere
en die mense is soos rokende rose

wanneer 'n kalkoen gehys word
aan die seinstok
op die helderste vlammetoringparapet
en ek die geklop kan hoor roep
kom ek terug na die stad

wanneer die son 'n harige sak is
en die maan bleek soos bloed
en die vyeboom deur 'n groot wind geruk
sy navye uitstrooi
soos sterre oor die aarde gestok

die skutmure broodkrummels
en tameletjies krummel en die bye
hul eie soetvlerke ingesluk
en die opgehangdes in lee sale
met pikdonker balle snoeker speel

en die grafgrawers sit in raadsale
want die melkweg is suur
die vlieeniers hul voete verloor
tuimel singende uit die hoogte
een vir een pluimswart elke uur

wanneer ek keer na die stad
speel die slagters op mandoliene
en 'n sog verorber die radio
die spreker en die golflengte
die eter spuug die woestyn uit

woorde krul orent en sterf
as lykwaens deur die boulevards sluip
en melaatses die galge met hul klokkies verfraai
kom ek terug na die stad

wannneer dit donker is
om twaalfuur in die vroee more
stilletjies sag
want ek het 'n afspraak
met bandiet B. Breytenbach

Elisabeth Eybers

Elisabeth Eybers 'Dagdroom' uit 'Gedigte1958-1973'

Ek het jou brief gelees terwyl ek eet,
die woordesoet het oor my tong gesprei.
Verby die aardse brood het ek gestaar
dwarsdeur die bome in die raam,
dwarsdeur die grys
wolkeplafon tot in die paradys
waar alles lig en helder is.
En net soos in die Bybel was ons naak en het
ek, aangekla, gou hom die skuld gegee
wat skemerig sis. . . toe ek opeens gewaar
dat ek my halfgerookte sigaret
aftik in my twee-derde koppie tee.

Ingrid Jonker

Ingrid Jonker se gedig uit 'Rook & Oker', 1965

Die skaduwee waarsku die straat
geslinger uit 'n hoë balkon
deur die skaars jakarandas van die lug
die skaduwee waarsku die son

deur die lied van die penniefluitjies
geval op die dreunende straat
my pop met 'n naam soos 'n liggaam
wat net soos 'n mens kon praat

My pop soos 'n mossie geskiet
korrel-kaal van die vensterbank
of was dit die wind uit die verte
of was dit my eie hand

My pop het geval toe die son
sy brons klok lui uit die lug
toe die wolke die mure wit kalk
val die skaduwee daarin terug

Die skaduwee waarsku die son
porselein met die ver lug bo
-as ek sou val uit 'n hoë balkon
as ek sou breek lyk ek ook só

Friday, March 23, 2007


Saturday, March 17, 2007


Vir Chantal 28 Oktober 1982 - 14 Maart 2007

die kamera (gaps) vir ‘n oomblik jou soepel gesig
en die son kaats vir oulaas vurige glans van jou hare
laatmiddag lig jy lag ‘n rooi mond geraam soos

-Maar jou dood het gekom
Vierentwintig bloedvore in die pad-

(ons glase klink nog in die lewe se blom)

Thursday, March 15, 2007


draft

sekerlik is daar iets sinvols om neer te pen wanneer die hart bloot
rit mies klop en die dag ontvou, skadeloos soos 'n kind se vuis
die dae langbeen strek,
die ure vier en twintig val
elke naweek hande-vier-voet nader kruip oor nog 'n sewedaelyk:
net gister skeur jy spartelend en pas gebore deur 'n kloppende vel
bebloed/hortend/hangend aan die enkeldraad (die son blosend op
'n eens bleek gelaat) en vandag neurie die nag soet akkoorde

Thursday, February 22, 2007


Tuesday, January 30, 2007

Munch painting

die maan stort swart bloed in emmers dit
val geluid loos 'n sagte groet en loop mank
langs geslote vensterrame af die vier
kantige kamer, gehul in sagte warm gloed,
se mure sug bebloed en bewend, geskend
skaars lewend en ons voetspore sirkel verwese
daarom, nat kinders, skadu's van wat was

Thursday, January 18, 2007

dronk blues

jy en ek ons
dans opie blues
met ellelange wit hande sparte
lende voete en ons heupe
wieg en wieg en
bonsende bonsen
de harte die sweet op jou
palm die musiek weer galm
'n pols 'n pols 'n pols
klop vir ons

Monday, January 08, 2007

die val van die pen 'n byl die kaap mossel
baai 'n brak rivier stil baai
vloed deur 'n benewelde gemoed en
stort 'n souttraan, 'n rooi alwyn, die ou jaar se bloed
vergete vergeel verbrand tot roet
-deur 'n bus, die daklig se sagte gloed

nagedagte

uit hierdie dorp het ek ontvlug en die einste brug wat bind verklug en brokkel tot 'n brose kug
* nav. ingrid jonker se gedig

Friday, November 17, 2006

van gogh pic

vrydag gedagte by die werk

die nag val 'n teater kombers
oor 'n grou pad, busse, my somber
vers. my ysvingers ontvou 'n blou
hart, kloppend kloppend en dors
met are vlegtend oor 'n wit pols
sit ek en dink teen die winter se bors

Wednesday, November 15, 2006

vir pa

'n glas op jou drie en vyftig jaar klink ek in
stilte teen die lig die klank ons hol brug.
my hande is leeg vanaand maar
op my vlug terug sal ek wasem teen die ruit
uit kyk vir jou
'n spatsel geel in die velde onder voet 'n
swart kraai, vasge- ets soos roet
die pad dorp toe sal kronkel onder my nuwe
voete. die lug sal ruik na reen. en iewers
sal jy le, versteen.

Sunday, November 12, 2006

mirrorink photo

gedagte

en nou eien ek die stilte op met oop arms
'n speld se val kan skaars gehoor word.
net my asem ha ling sag soos 'n kind
die mure het ore wat luister en
skadu's sluip voetloos oor wit hande
ek is gewigloos soos die geel lig en spruit gedagtes

Saturday, October 14, 2006

ek stroop jou my tweede vel my geraamte glim nou
sag in die skemerlig 'n stellasie sonder jou gesig
jou afhande skop in 'n ronde emmer onder die bed
en jou bloed kook ek op my stoof dit prut en prut dit
stotter soos 'n gebroke tong en borrel roggelend en
sterf soos 'n kug

Sunday, September 17, 2006

mirrorink photo

soveel goue dae op die blik terug
die maande vertaag in my geestesoog
die silhoeet swart teen die lig
uitgeets vir 'n moment ons bloed
gestol en ons verstrengel in
dieselfde skets

Friday, August 25, 2006

Hirst Exhibition

elke senuwee gespan soos 'n
snaar wag ek vir die bloed om
in my are te bedaar en nina
simone, haar stroopsoet stem, klim
saam met die aand en die
kriewel in my vel elke haar orent
seil wriemelend
deur die pen
en jou -stil - handgebaar

dagdroom

elke boom, in Hyde Park, ongeskroom
raam ek met ons skrywersoog
die stil gras en swanger wind 'n
struikelende voetpad soos in 'n droom

Sunday, August 06, 2006

Francis Bacon

ps

in lebanon pers platgestrykte geboue soos dooie vliee (vir eers skamel)
geklede mense soos sikspense en tanks donder in nou strate af teen die lig
van dag en daar val geluidloos
bomme
sommer
uit
die
lug

Sunday, July 09, 2006

 Posted by Picasa
jy haal deesdae ook bedags asem
hortend, vrottend na gisters, 'n swart more
die lot van 'n dooie christus ek skrop
my hande bloedloos skoon en hang my kop
in onskuld ek voel my pols tussen duim en voor
vinger en kom met 'n sug
'n hopie grond in potchefstroom ons bou 'n steen
met jou naam daarop ek plant 'n geel blom soos
die son, verduister deur Van Gogh se swart kraaie
en hul skemer tog. wat is die som
met die einde altyd op die horison?

Sunday, July 02, 2006

'n dronk vers

so ek sit toe alleen en sip my cider (dis somer) tom
waits en ek sip my cider. en die son bak neer soos
op geel dae. met sweterige hande op stowwerige
tuistoetse tik en tik ek dit is nie meer stil nie
'n stapel dagboeke vergaar stof in die blote daglig. tom
waits neurie in my oor. met 'poem for the day' of 'a poem for
every day' two aan my sy begin ek helder
heid kry. en jou skim staan en bak in die son 'n
wasem sonder asem. maar darm vandag met ons.

Thursday, June 29, 2006

die dag trek water soos bloed

Sunday, June 18, 2006

mirrorink photo

Posted by Picasa
jou kantoor daardie doodstil ruimte waar
net die stof vertrek 'n swart toga hang sprakeloos
aan 'n toe deur die mat 'n mummie staan deesdae
regop in die hoek lee laaie, hangtong en wagtend
in die wit son die horlosie se plat kop hou sy asem
en die straat dop die lendelam boekrak steier teen
'n wit muur onder anonieme boeke vanuit die vuil ruit
sien ek jou straat af stap kop-af peinsend ewig
verweer deur die genadelose son

Thursday, June 15, 2006

byna gesneuweld staan die dwerg pen-orent en
balanseer nog steeds die maan, al dan met stram gewrigte
(of in waan) en ons drink cider soos visse en knipoog skalks
vir mekaar en slaap arm-om-die-lyf en ons luister na vivaldi
se opera die stem wat rys tot teen die plafon en breek soos die
reen en ek klouter op jou skoot en sluit my oe teen gister se lem
skerp lig soos 'n kind met 'n gewonde hart gryp ek jou hande in die nag

Sunday, May 07, 2006

die aand stryk neer soos 'n swart swael, bloeiend om
die bek, klein pitogies tot op die laaste gerek. sewe maer
jare om 'n skerp snawel gewerp. die somer is snerpend
koud. die wind yl genoeg om ou wonde te lek.

Wednesday, April 26, 2006

Posted by Picasa
die behoefte om 'n gedagte soos 'n lyk neer te le ontstaan
bloot soos masturbasie- die hand soekend na groener
velde. platgestrykte papier sag vasgepen en bloeiend soos
'n maagd. die skrywer sug behaagd. en kom vrugloos.

Thursday, April 13, 2006

mirrorink photo

Posted by Picasa

Friday, April 07, 2006

sprokieskind

kom le warm teen my rug, die nag sugtend
soos 'n slapende kleuter
verstrengel jou klaviervingers in my gewrig
jou bors dein op
en af, 'n donker stroom oor sy graf
en jy neurie die dodemars met nat lippe
kom sing vir my, soos van ouds, 'n slaaplied
oor twee kinders in 'n woud, broodkrummels
die huis van hout
werp jou lang gesig teen my bors en gee
vir my jou koue voete, jou knersende tande,
die brug na jou lande

Tuesday, April 04, 2006

mirrorink foto

Monday, April 03, 2006

eerste lente

die skelm son lek jou wit vel
die dag sluk jou blou en skoppend, 'n metgesel
groen lower sluimer in strak struike,
Van Gogh Geel groei in warm buike
selfs die wind sug sag, 'n warm babateug
die lig is luid,
die winter hees.

Tuesday, March 28, 2006

jou oe is troebel groen poele
ek steek 'n vinger in twee gebreekte spoele
'n skag sonder lig-
jy dra die nag heel op jou rug.
die dag, 'n vlermuis, vlug voor sulke krom voete
jou gebeente le gestroop vir die son om te verslind
jy kug swart bloed in die nag en
drome soos roet.
ek vat jou skrale hande en jy val soos sand na
ander lande. my vlees en bloed.

Wednesday, March 22, 2006

voetnota 1

te koop by Oxfam: jou stram ledemate
'n swart kam sonder grate
'n bont trui vol gate
die vasberade tred van jou dronk stap
vleeslose vingers tot op die been getap
die Lasarus in jou are
en die son op jou graf

voetnota 2

in my drome, verlore man met die gebreekte rug,
hoor ek jou sug.
droe bloed in jou pen staan jy hand in die ken
hand in die hare bakhand
na soveel skraal jare peinsend jou lang gesig
vir ewig alleen in die skare

Monday, March 20, 2006

mirrorink pic

Posted by Picasa

Saturday, March 18, 2006

die fossiel

die dag gaap oopmond soos 'n sondag
ek sit sweterig in die internetcafe
en luister na die babbel van twee 'slappers'
die dreuning van die aircon
en die bloed in my slape wat stadig klop en
klop soos die man van een-en-negentig
met gebroosde hande en 'n voos vel
waardeur blou are soos garing steek
en sy kop wat ruk en ruk soos die strop
om sy nek
dementia.. die gelukkige gek

Tuesday, March 14, 2006

mirrorink foto

Posted by Picasa

Monday, March 13, 2006

pers bloed uit jou voos trui vir 'n drenkeling
'n paar laaste woorde om vir oulaas te skend
gebroke gedigte soos jou hees stem.
die son val geel deur 'n gebreekte ruit-
die hand van god of neil diamond.
strompel tog 'n laaste maal benig
in kerkstraat af, die laat lentereen teen jou vodde jas

Friday, March 10, 2006

oproep

jou stem soos naels teen 'n swartbord en
jy praat wol tussen die tande.
ek spuug vuur
die telefoon-'n hol lyn staties.
ek snip jou mond oopgesper
'n maag van lood met my ystersker

Tuesday, March 07, 2006

trefentrap-nota

Man in die nat pad: sy oe bebloede skrewe.
veraf-sirenes die enigste lewe. en die reen
spoel die straat skoon. en sy gebreek te lede
mate orent soos ons verbete.

Sunday, February 26, 2006

die vlek op die blad lek aan my vingers
soos bloed wat strek asemloos rus ek in
'n wit vertrek,
'n skadu wat die mure lek voordat die slaap
my oordompel sal ek nog die naaktheid bedek

Friday, February 17, 2006

die geel dag onverwags

jy het hierdie week getalm in die Thames onder Kew Bridge.
jou stem weergalm tussen Marks&Spencer mense soos 'n galg.
ek staan bedags by 'n rooi busstop jou voete op die sypad wat
strompel met afhak skoene, en klim op die 391 vir brood en melk
en toe kom jou geel dag onverwags en eensaam, die maer man
met bewende hande en jy stink na drank en nostalgie, na brood
en botter, swart kam in jou hempsak met bak hande en verbete
wagtend vir die Wederkoms en jouself om ook te kom.
sober sit ons nou op 'n vernielde bank en ek rook 'n sigaret op jou

Monday, January 30, 2006

Mirrorink sketse



Sunday, January 29, 2006

die diamante

stom gedigte soos diamante geslyp om in die hand te
pas, ryp kuikens wat skril vrot en stol op jellybene.
swart ink uit die kraak van die wit pen strompel 'n spoor
ongeskend, slegs bloed in die are soos 'n rooi mond potent

Friday, January 27, 2006

Die dartelende rooi kinders

Hyde Park en die voetpaadjie slinger ons
(dartelende rooi kinders)
onder 'n skamele son huiwerend teen die horison,
takbome soos Schiele- vingers, die swane vas
gemeer as Degas-vlekke- Skemer
skeur skrams deur die dag soos 'n wasige hand
beur ons teen die pas

Friday, January 20, 2006

jou skel kan snags gehoor word selfs oorpluise,
'n swak metgesel, verdoof geensins die klag
'n silhoeet teen elke muur
swart ink op 'n nuwe blad
die vier-by-vier plankvloere kraak onder ons
'n skugter maan skeel gemaak waak oor ons
wat beiteil tussen blad en steen half versteen
tussen boud en skeen
haal jy asem
so die beste van laasjaar is opgehang- my pers serp en
strop aan die name vang my met 'n slap riem in die
middel van die nag wanneer ons ondiere na asem snak
brak water goue visse in 'n bak London! wat op die uwe kak
die strompel val tussen nou en daardie maanlose dag
toe die son geskel het teen die hemel, blou en oopgevloed,
wit op ons gemoed,
maar waarmee sit ons oorgebelewe behalwe
Tyd en al die Sake wat dit verhewe

Sunday, January 08, 2006

die farao in sy graf van glas grinnik sonder oe, Ramses
die tweede op sy rug elke been uitgekerf in steen die
Monument van 'n koning toring onder die songod Ra
ons die Japanese met Kodac-kameras wat flash
tussen Reuse gaan ook eendag sterf

Saturday, November 19, 2005

die 1979 kandidaat

die politiek-man tas met stram vingers
na sy tande in 'n glas,
vind dit helaas
en stop sy mond soos 'n kind

Thursday, November 03, 2005

dis herfs jy sterf weereens naam en datum
in boombas gekerf-
kaal bome werf jou dun asem, die wind leeg sy longe
ek stap oor die blarekombers- aarde en roet,
tot by die voet van die tak-geraamte wat roep,
en luister na die fluister van blare soos rooi fluweel;
gekante geel son bedags!
ewig deinende bors van jou wit hemel...
jou groet Pa, die soen van herfs

Wednesday, November 02, 2005

die agt tot middernag sit selfs snags op my bors
benig en dors
altyd onvergenoegd opsoek na kleinighede
om op te voed
ek glim lag en se ag, verskoon die gedrag
wat om nou eintlik van die stroom-op slak,
strop om die bek, te verwag?
roetine, wat 'n roering! op die waterroete
die tyd, strompelend gestremd, tussen vier
mure gedemp soos die murmur op die punt
van my tong-
uiteindelik buite strek ek, die kat, en lek
die pels wat my omhels, en skuit geluidloos
op jou stoep

Tuesday, October 04, 2005

Mirrorink pic

die maer man

die maer man wortel aan my voete ons stap bedags saam met die
son, word later twee lang skadus en snags demp ek vir hom
in my droom hang die maan saamgepers
soos my ewige traan in die nikswees van die nanag
Ek pluk stikdonker sonneblomme begin herfs
Jou hare val soos die jare en stof versamel
onder jou vel, verlore woorde,
die holtes van jou oe..‘n sesvoet skag,
lee pen in jou hand, ‘n stamel –
drie uur staan ek op soos jy- gedemp deur die maer man gelei-
en skryf stotterend oor die dood, jou en my

Monday, October 03, 2005

soveel gesigte in stukke. ek misluk op krukke
teugend net- vandag aan die no-name-soup,
effe af smaak van social.. services tong in die kies
selfs ‘n oop venster.. maar die dood kannieontsnapnie
want die mat muf- jare se myotis
-multiple-sklerosis ek trap in die graf van
die lewendes met my latex gloves
kanker-gangerine-en altyd hierdie tumour in my kop wat
kraak onder die lig in die nag dit kon ek gewees het

Friday, September 16, 2005

ma

Ma jy is die aarde ek breek skoppend uit jou buik jy vang my met wingerd hande slyp my met jou tande ek word gewortel deur die kompos van jou kruik die spore om jou oe hardloop oor my palm ek soen jou rooimond waar die lewe altyd talm Ma ek wil jou hakke lawe wat breek vir ons onthalwe die bondel op jou rug soos ses kinders dra kelder vir my jou lag in ‘n koffie beker en die pante van jou rok want ek weet so min verseker en eien my op want ek sit nog in ‘n sinkbad duskant die son wagtend vir jou om ook te kom

Wednesday, September 07, 2005

jy strompel op onvaste voete in my vas en tint my drome met die rooi bloed
wat ons bind anoreksies probeer jy dan die swart skamele draad tussen ons
soos garing heg asof ek die lappop is van jongs met ‘n gebreekte nek
vallend voor jou byl ‘n basterbrak ewig lekkend aan ons wonde
sleep my stukkend oor ‘n erf jy sterf en werf die kind
soos ‘n enkele snik maar ek bly staan in die stof

Tuesday, August 30, 2005

Victoria & Albert Museum

Monday, August 29, 2005


Friday, August 26, 2005

Augustus,2005

refleksie van 'n idioot

die kind-man skater vir sy gesig in skerwe teen die spieel
sewe lee seats tussen hom en ons almal wat gaap soos
visse boloog teen die ruit die treinkamer word ‘n stage
flik ke rende ligte ons is mannekyne ‘n mensdom
van mimiek die kind tas uitbundig na
homself in die land van die blindes waar
leeus ongesiens onder sitplekke waak

Wednesday, August 24, 2005

Mirrorink pic



herfs, 2005

London jou lot het homself begrawe onder die skadus van spoorwee waar
selfs die muise nou ligvoet trap terwyl ons almal reeds soos geraamtes die
tonnel instaar asof dit die ewigheid is soos tuna in ‘n blik beweeg ons ge
ruisloos van a na b die grond le ses voet bo ons en asemhaal in die son maar
ons eet mekaar gregtig ondergronds op elke gesigsuitdrukking ‘n masker want
wie is eg wanneer die bloed gesplatter met nuwe oe vanuit donker hoeke staar

Mirrorink pic


April, 2005

ek rook vanaand ‘n sigaret op jou pa op alles
wat ons gemeen het omdat ek jou obsessief saam
met my dra jou eensaamheid is nou my stilte ek
rym omdat jy woorde in my mond plaas

-----------------------------------------------------------------------------

Augustus, 2005

ek knak onder bach se dodemars die reen marsjeer teen geslote vensterrame af
die wete heeldag van ek as sterfling lewendig vasgespyker soos turner teen
‘n muzeummuur gekruisig wat olie bebloed baar ek sing my enkel
noot die rooi son sakkend oor die thames
------------------------------------------------------------------------

Augustus, 2005
die middel van die dag smoor my soos ‘n onsigbare hand wat
in my keel pak soos watte ‘n bekende greep op niks in besonders
nie slegs die wete dat ek vasgepen word tussen twee half-
dae oopgekloof word tussen gister en vandag
---------------------------------------------------------------------------
Julie, 2005
ek wil warm onder jou vel in kruip en teen jou hart gaan le
soos die see wat breek teen my oor wil ek stilweg luister
na jou bloeiende kneukels wat klop en klop en
klop en aan jou oe dink in die duister
-------------------------------------------------------------------------------

Julie, 2005

die stilte in my breek slegs saam met die see ek
proe die soutwater in my bebloede are alleen
wanneer ek flenters met my tone in die sand grawe
soos ‘n blinde beur ek tassend na die horison my
wit oase die oseaan so diep soos een leeftyd
-------------------------------------------------------------------------------

Junie, 2005

Mozart troos ons almal soos reen sypel jy tussen
my tone deur sprakeloos val nog ‘n dag soos ‘n
rooi swael gewond geliefkoos net die wind kan my
val breek tassend na die kleur van dag geluidloos en
sonder jou breek die nag weerbarstig ‘n grys noot
---------------------------------------------------------------------------------

April, 2005

jy kneus skraal die vars grond en besit vir ewig
die aarde ek voel die swart sandkorrels tussen my tone
deurvleg en dink aan jou stom stilte wat onder my strek en
aan die mensdom ons almal gek terwyl jy 6voet lank rus nie eens
meer bloedkug nie maar blind na jou hemel staar ek dink aan Die Dood
Pa my bloed wat vrylik vloei terwyl joune gestol het en neem ‘n teug van die
warm middagson die pers lug bo alles kreun met geweld oor my onblusbare pols
---------------------------------------------------------------------------------

Maart, 2005

ek maak jou gedigte vanaand oop soos die deksel van ‘n kis
jou reuk die stank van dood talm vir net ‘n oomblik
voordat ek dit verwelkom as die vreemdeling wat my
met jou laaste koue asem roep om afskeid te neem

--------------------------------------------------------------------------------

Maart, 2005

jou dood le drukkend soos ses voet grond op my ek
haal skaars asem en probeer om so stil as
moontlik te wees ek luister na jou hartklop
maar dit is slegs my bloeiende kneukels teen jou kis
jou asem het iewers in ‘n hospitaal gaan le tussen my en
die see jou longe nou leeg soos jou hande Pa
jou peinsende voorkop alewige erns verweer in die stof
jou kis val perfek vierkantig in sy volmaakte gat
maar jy word verteer deur wurms stof ek wil jou red
Pa my arms uitstrek hierdie stilte verbreek
wat my verorber

------------------------------------------------------------------------------

Maart, 2005

die eggo

pa hierdievreesdatmy woorde gaan opdroog soos die se
we gedigte wat in die niet op die wit
rekenaarskerm verdrink het en dat ek
stom soos ‘n wit skedel gaan word
sodat die swart rougrond my nie meer kan smoor
nie die eggo van jou kreet wat
sterf
----------------------------------------------------------------------------------

Maart, 2005

Pa ek skryf vir jou ‘n gedig omdat jy nie meer hier is
nie die besef slag my keel jy is toegespyker in ‘n kis

-----------------------------------------------------------------------------

17 Februarie 2005
Vir Pa

die Feit dat jy dood is Pa staan soos ‘n skraal boom op ‘n verlate veld
erens waar daar kasterolie bottels onder die aarde sluimer
die hemel is nou so geel en so stil soos Van Gogh se verweerde sonneblomme
die lang gras verwaarloos bewe in ‘n asemlose wind
‘n ou huis sug slapend en draai krakend om droomloos en leeg
sy enorme kamers stikkend in die son so stil sonder ‘n enkele voetstap
ek klim uit jou Zepher uit en soek na jou alleen
die wind is stil maar ruik na reen ‘n briesie dra jou sigaretrook

ek sien jou skraal silhoeet jy dolf die swart grond om met jou graaf Pa
ingedagte altyd soekend ons staan met ons kaalvoete ek en jy Pa soekend
----------------------------------------------------------------------------------

2005

die Dag van Slaap is nou verby
sewe dae se residue skadu onder my oe
ek skerm teen jou harde woorde
en knip my oe teen die vlymskerp son vanmore
asof dit nog steeds in die lug hang soos stof

---------------------------------------------------------------------------------
2005
bustophobia

you pry me open with your sharp eyes as if I
am suffocating your need to know

---------------------------------------------------------------------------------

2004
alet

‘n asemteug van jou bloedsuster was nog altyd myne
jou refleksie in my spieel ‘n hand
gebaar soos ‘n sagte musieknoot myne
Monet Mozart ek is Van Gogh Beethoven
twee ling
ons deel ‘n mak hartseer saam

-------------------------------------------------------------------------------

2004

die een lyn gedig

ek is nie jou verskoning vir
enige iets nie
nie ‘n gat
of ‘n ons nie
nie bewus van jou Alles nie
net van my Eie
-------------------------------------------------------------------------------

2004

vir ‘n flietende oomblik sien ek jou elke dag
vir ‘n 1000 nagte hoor ek jou asemhaal
jy breek die wond van jou verlede en
ek glimps die sweer in jou hede
----------------------------------------------------------------------------

September, 2004

ek staan soms so stil soos die wit hemel
‘n kwasstreep op ‘n kanvas so
stil soos ‘n enkele moment
en luister na my hart wat klop en
klop en klop en..
---------------------------------------------------------------------------------
2004
hunkering

die kind is versmoor
en skree na lig
ek verwag
sy is ‘n aborsie
ons deel ‘n gesig

-----------------------------------------------------------------------------

July,04
alet

my suster het ‘n musikant se hande
sy skets engele op papier
staan op haar hande
en speel klavier

------------------------------------------------------------------------------
2004

wanneer ek terugblik op hierdie tyd
my geheue dan teen soveel steen geslyt
die
wit stilte
van vandag die vreemdheid
van wie ek is onthou
die jaar van seks
soveel swart en wit impressies die grys
van jou oe

en ongeskonde ‘n wit begrafnis hou


-----------------------------------------------------------------------------

Julie, 2004

die dag swyg selfs die hemel is leeg ek tob
oor niks nie en ken niemand
nie daar steek geen Waarheid in die Thames nie

------------------------------------------------------------------------------

2004
die kerk

ons het die houtbanke deurgesit elke godsdag
die bybel verorder ons was baie honger
die gemeente
en ons bler
saam met die orrel die dominee
spreek die waarheid sy stoel bevestig dit
katkasisasie soos manna uit die
hemel nou weet ek waar die hel is

--------------------------------------------------------------------------------

2004
kinderspeletjies

ons sit op die mat ek en jy
jy speel met my Ken sonder ‘n penis
ons huis het 16 kamers
en ‘n microwave
ek is Tracey en dra my neon mini
en noem my mevrou asseblief
ons trippel op high heels
later bou ons weer ‘n mansion met
drie badkamers vier verdiepings maar
besluit dan dat ons nou te groot raak vir sulke kak

-----------------------------------------------------------------------------

Maart, 2004

ek wil in ‘n duisend stukke
soos die geel son na
die aarde val teen
die spoed van wit lig
die swart grond tref
54kg
------------------------------------------------------------------------------------
2004

my kanker was nog altyd ‘n oormaat van gedagtes die
klok slaan een uur teen die chaos in my kop ek
is 12 en probeer met ‘n skuldige gewete slaap

-------------------------------------------------------------------------------
2004

hierdie bekende onrus knaag aan
my bewustheid soos ‘n
vae herinnering aan iets
wat ek vergeet het die
eintlike ek en
nou probeer onthou

-------------------------------------------------------------------------------

2004

breek my kop teen ‘n pikswart rots
die see sonder taal
‘n eindelose wit hemel strek
‘n meeu wat skreeuend beur

die stilte van ‘n volle dag

breek my kop teen ‘n pikswart rots
-----------------------------------------------------------------------------

Maart, 2004
siamese droom

ons is nie ‘n struwelende siamese tweeling met dieselfde lewenslyn
besig om ons koppe snags bloeiend te breek in vryheidsdrome
die wit laken gedompel in angssweet nie.
tog is eksoosjy struwelend
my kop vasgeklamp onder ‘n wit skedel
my hande wildtastend in drome sodat ek wakkerruk
die muf reuk van skoon lakens slaan my onderstebo


----------------------------------------------------------------------------
Maart, 2004

jy sit al so lank in ‘n kelderkamer
die lug is muf selfs die wind
loei moedeloos teen verweerde ruite
wat klap klap klap klap vir roetine

somber skadus strek van hoek tot kant
niks versteur jou pas ‘n dowwe leeslamp
skuiling teen die wordende storm buite

------------------------------------------------------------------------------

Maart,2004
ongedeerd

ek val nog ongedeerd
breek die blou lug in spasma
verboureerd

my skadu bloei soms beton

--------------------------------------------------------------------------------

ter herdenking aan

en wanneer die sapphire hemel op my neerbliksem
en elke volmaakte kleur wegsypel
en die blote wit lig vlerke kry
wanneer my asem deur shreds of skin skeur
my siel handeviervoet na ‘n exit strompel
en my gedagtes soos grys confetti wegfladder

sal daar in sierskrif op ‘n goue plaat teen ‘n bonkige klipmonument
absoluut niks staan nie

-------------------------------------------------------------------------------
Februarie, 2004

soms plant ek ‘n tulp bloeiend
en squat soos ‘n kind
langs Wolmaranstraat
my ge-eelte hande breek
so stadig
breek die swart grond

---------------------------------------------------------------------------

Februarie, 2004

I trampled my shadow
today dragging
around the clock
screaming like the dead
echo of yesterday

--------------------------------------------------------------------------------

Januarie, 2004

ek het gister my vel verloor vir 'n
moment
en in plaas van pynlik wriemel
naak in die blote lig vandag
momenter verblind
drink my geraamte die son soos 'n kind

--------------------------------------------------------------------------------


2004

Ek dink aan Kafka en my pa

mirrorink pic